Feeds:
Posts
Comments

Liefde

Die Griekse geskiedskrywer Herodotus het een keer gesê as perde en koeie hul eie godsdienste kon uitdink, sou God soos ‘n perd of ‘n koei gelyk het.Dis seker ‘n oukei punt, hoewel ek meer geïnteresseerd is in wat honde sou doen as hulle hul eie mitologie moes uitdink. Sou daar meerminne wees?

Onlangs het ek met my twee honde op die strand gaan stap – elkeen van ons drie in sy eie gedagtes vasgevang.

My oudste hondjie, die sensitiewe een, het redelik doelloos rondgeskarrel en gesnuffel. Naby die monding van die strandmeer, so klein sandduintjie van die see af, het sy op ‘n Ding afgekom.

Die Ding moes al ‘n paar dae daar gelê het, want dit het al begin stink en daar was wurmpies in sy oogkaste. Sy pels was al vol sand.

My arme hondjie. Sy het die hartseerste uitdrukking in haar bruin ogies gekry. Sy was seker op soek na ‘n stert om aan te ruik sodat sy met die Ding kon kennismaak – eers het sy aan die Ding se agterlyf gesnuffel, wat nes dié van ‘n vis gelyk het, toe aan sy kop, wat die kop van ‘n hond was. “Staan op, skone, staan op,” het sy geknor, maar die Ding het nie gehoor nie.

“Foeitog, hondjie,” het ek gesê, “los maar die arme Ding dat hy in vrede kan doodwees,” maar my hondjie het om en om die Ding gesirkel en toe, ewe skielik, langs hom gaan lê met haar lyfie styf teen hom. Soos twee ou mense wat langs mekaar op ‘n kampbedjie ingewriemel is. Sy het haar koppie saggies eenkant toe geknik sodat dit op die Ding se skouer tot rus gekom het.

Ek moes haar optel en wegdra, anders het sy seker die hele dag daar gelê.

Dat dit nou so maklik is om heeltemal verlief te raak, het ek gedink.

‘n Paar dae later het ons weer daar verbygeloop en die Ding was weg. Dit sou nie maklik so volledig kon ontbind nie, ek vermoed die gety moes opgestoot het en toe die Ding, wat dit ‘n paar dae vroeër daar kom neersit het, weer weggedra het. In die soutwater sou dit binne ‘n paar ure uitmekaar val en òf viskos word òf in al kleiner stukkies opbreek totdat dit maar weer deel van die see raak.

In my hondjie se drome is dit egter nie wat gebeur het nie. Wanneer sy saans op haar kussingtjie lê en klaar die skop-skop drome en die knor-knor drome gedroom het, kom haar innerlike romantikus na vore. Dan sien sy hoe die Ding begin roer, kort nadat sy langs hom gelê en hom liefgehad het. Sy sien hoe die Ding weer opstaan, met die vlam van haar liefde wat hy in sy borskas brand, die vlam wat lewe gee. Die Ding het laatmiddag teruggesleep na die water, ingeplas en ‘n paar hale ver geswem. Vir oulaas het hy teruggekyk na die land om in sy gemoed van my hondjie afskeid te neem.

“Julle sal nie glo wat ek gesien het nie,” vertel hy die ander robbe wanneer hy hulle êrens in die diepsee teëkom, “op die land is daar robbe, oftewel hul bolyf lyk soos ‘n rob, maar hul onderlyf lyk soos ‘n perd. Met vier pote en al. Ek het een ontmoet, sy was mooi, o so mooi, en haar kus het my heelgemaak sodat ek weer lewe.”

Die ander robbe lag dan, knaag verder aan ‘n vis en waarsku later hul kleintjies om nie te veel na die mal ene se praatjies te luister nie. Die kleintjies ignoreer die waarskuwing en vertel die stories later vir ander oor.

Herodotus.

Die begin

“The ferry pushes off and moves across the water. The bank we are leaving behind is losing its substance. The shops and streets and ant-like figures are blending together and releasing their hold on us. Meanwhile, the shore toward which we are headed is not in focus either; it seems almost as far away as it ever was. There is an interval in the crossing when the only tangible realities are the water, with it treacherous currents, and the boat, which is stoutly but precariously contending with them.. . . The further shore draws near, becomes real. The craft jolts onto the sand and we step onto solid ground. The land, which had been misty and unsubtantial as a dream, is now fact. And the shore that we left behind, which was so palpable and real, is now only a slender horizontal line, a visual patch, a memory without substance.. . . Here we come to the Prajnaparamitra or Perfection of Wisdom sutras, which are widely considered to be the culminating texts of Buddhism. The Five Precepts and the Eightfold Path; the technical terminology of dukkha, karma, nirvana, and their like; the commited order and the person of the Buddha himself – all these are vitally important to the individual in the act of making the crossing. They lose their relevance for those who have arrived. Indeed, to the traveler who has not only reached the promised shore but who keeps moving into its interior, there comes a time when not only the raft but the river itself drops from view. When such a one turns around to look for the land that has been left behind, what appears? What of that land can appear to one who has crossed a horizon beyond which the river dividing this shore from that shore has vanished? One looks, and there is no other shore. There is no separating river. There is no raft, no ferryman. These things are not a part of the new world.”

Ek was 23 en in Londen toe ek hierdie stukkie in Huston Smith se The World’s Religions gelees het – in die hoofstuk oor Boeddhisme. Dit was êrens in 2000; ek is nie seker oor die datum of selfs die maand nie, buiten dat dit somer was, want ek het die oggend vroeg opgestaan – so vroeg dat daar nog nie eens busse of moltreine was nie – en die son het reeds geskyn. Ek het van my bedsit in Queen’s Park tot by Paddington Station gestap. Dit was nogal lekker, want mens loop met Edgware Road langs en hy is doodstil. En op Paddington het ek die blitstrein na Heathrow gekry om my suster te gaan ontmoet, want sy het pas van Suid-Afrika teruggekeer en het hulp nodig gehad met haar bagasie. Op die trein het ek dié stukkie uit Huston Smith se boek gelees.

Ek was destyds bietjie van ‘n godsdienstige slet. Ek het my evangelical geloof seker so drie jaar vroeër verloor toe ek ‘n lucidum intervallum tydens ‘n aanddiens in die Stellenbosse Studentekerk beleef het. In die jaar voor ek Londen toe is, het ek my tesis oor die Hare Krishnas gedoen en ek was bietjie aan die tob oor baie van die idees wat hulle my gegee het, maar ook goeters uit New Age en ander vorme van Vedanta – goed oor God wat oral is en ook in ons, goed wat ek nie mooi verstaan het nie, maar wat my goed laat voel het. Een van die redes hoekom ek in Londen was, een van vele redes, was om ‘n nuwe geloof te soek, want ek het gedink ek sou nogal daarvan hou om weer een te hê. In my agterkop was die idee dat ek uiteindelik vanaf Londen sou aanbeweeg na ‘n ander plek – waarskynlik Indië – waar ek die res van my lewe sou deurbring.

Die Boeddhisme was ook op my spyskaart van dinge om te verken, maar ek het beplan om dit tot veel later uit te stel, ten minste tot nadat ek met die Hindoeisme klaar was. Die stukkie uit Huston Smith het my egter vroeg daardie vaal Londense oggend op die trein tussen Paddington en Heathrow eienaardig lig laat voel, so asof ek bietjie opstyg terwyl al die spiere in my gesig gelyktydig ontspan. Salige rus, het ek gedink, salige rus.

As ek aan my kennismaking met die Boeddha dink, dan dink ek altyd aan daardie oggend op die trein, want dis eintlik waar dit begin het. Eerder daar as by die dag dat ek by ‘n Boeddhisme-sentrum ingeloop het.

Die eerste plek waar ek ingeloer het om die Boeddhisme te verken, was die North London Buddhist Center in Holloway Road, waar daar meditasieklasse op ‘n Dinsdagaand was, maar ek het my een aand vererg omdat my bene so seer raak terwyl ek kruisbeen sit en niemand my raad daarvoor kon gee nie. Toe ek ‘n nuwe werk in ‘n boekwinkel in die West End gekry het wat my Dinsdagaande besig gehou het, was ek bly om nie weer North London Buddhist Centre toe te hoef te gaan nie.

‘n Paar weke later is ek alleen na die London Buddhist Centre, Londense hoofkwartier van die Friends of the Western Buddhist Order. Die sentrum was in die Buddhist Village in Bethnal Green, tussen ‘n paar Boeddhistiese winkeltjies en deli’s. Dit was in ‘n ou brandweerstasie. Mens kon die trein op die rooi lyn reguit vanaf Tottenham Court Road (omtrent ‘n kilometer van my werkplek af) tot by Bethnal Green vat. Op Woensdagaande het ek sesuur ophou werk, die meditasieklasse het om sewe-uur begin, en ek het dit begin bywoon. Dit was lekkerder. Daar was gewoonlik so 30 mense in die beginnersklas en ‘n vriendelike vrou het dit gelei. Almal het op kussings gesit voor ‘n groot beeld van die mooiste Buddha wat ek nog gesien het – ‘n jong goue man met ‘n vriendelike gesig en swart hare; sy gelaat het amper soos ‘n Griekse Appollos gelyk. Al om die ander week het ons ‘n asemhalingsmeditasie gedoen, en die res van die tyd was dit Meta Bhavana, oftewel Meditation on Loving Kindness, waar jy allerlei mense wat jy ken visualiseer en probeer om hulle lief te kry. Ek het meer van die asemhalingmeditasie gehou, omdat die tweede een effens na breinspoeling gevoel het. Daar was halftyd ‘n pouse en dan kon mens ‘n koppie peperminttee en ‘n Romany Cream kry. Mense het in klein groepies rondgestaan en gons, maar omdat ek niemand geken het nie, het ek in die binnehof gesit waar daar ‘n fonteintjie was en ek na ander mense se geselsies kon luister. Almal het in sagte stadige stemme gepraat, hul gesigte het geblink asof hulle pas uit ‘n stort geklim het. Die klank van die fonteintjie was fraai.

Mens moes twee pond per sessie betaal, maar ek het soms ingesluip sonder om te betaal en dit vir myself probeer regverdig deur te sê Engeland het ons gekoloniseer, hulle skuld ons. Ek het baie goed so probeer regverdig terwyl ek in Londen gebly het.
Na ‘n paar weke was daar ‘n aankondiging dat daar op Donderdagaande (my aand af by die werk) ‘n spesiale klas vir ‘n klein groepie beginners gaan wees genaamd “Introduction to Buddhism”. Dan sou hulle nie net rondsit en mediteer nie, maar ook onderrig word oor die beginsels van Boeddhisme.
Die klas is aangbied deur ‘n vriendelike oudonderwyser met die naam Jayanatha. Dit was ‘n Sanskrit-naam wat hy gekry het toe hy ingelyf is by die skool. Almal wat ingelyf is, het Sanskrit name gehad. Die stigter van die skool se naam van Sangarasjita (ek spel dit nou hier verkeerd), ‘n oudsoldaat wat glo Boeddhisme in die woude van Birma ontdek het en toe die skool in Londen kom stig het, met effense aanpassings vir Westerlinge. Almal het in verhewe stemme van Sangarasjita gepraat en al sy boekies gelees, hy was ‘n held. Later jare het ek uitgevind dat Sangarasjita in ‘n seksskandaal betrokke was toe hy by van sy dissipels geslaap het, maar toe het ek nog niks daarvan geweet nie. Die klas is ook bygewoon deur ‘n cockney genaamd Mick, wat vertel het hy het altyd ware geluk in sosialisme gesoek, maar dit het nie gewerk nie en nou probeer hy Boeddhisme. Daar was ‘n jong Australiese meisie wat gereeld gehuil het. Daar was ‘n Joodse vrou wat vertel het sy het pas deur ‘n groot emosionele trauma gegaan en Judaïsme het haar niks daarmee gehelp nie, nou soek sy ‘n nuwe geloof. Daar was ‘n jong gay ou van Jamaika wat gesê het hy vind die gay kultuur baie oppervlakkig en nou soek hy meer. Twee huisvrouens. ‘n Sielkundige. Ek.
Ons het elke Donderdagaand daar vergader in ‘n klein kamertjie, ons skoene by die deur uitgetrek (ek onthou nog ek was selfbewus omdat my voete effens gestink het) en dan het Jayanatha die aand ingelei met ‘n verduideliking van een of ander Boeddhistiese konsep, waarna ons dit begin bespreek het. Meestal het die gesprek dan verander in ‘n ge”share” waarin ons almal (mense wat regtig niks met mekaar in gemeen gehad het nie) begin het om met mekaar allerlei dinge uit ons lewens te deel. Swaar goeters. Mense het soms gehuil. Party het soms onverklaarbaar kwaad geraak en begin skel. Tissues is uitgehaal. Dikwels het mense hul hande op mekaar se skouers gesit. Ek onthou ek het een aand gesê: “I am here because I no longer like my life.” Dit klink so melodramaties as mens daaraan terugdink, maar dit was nie toe nie.

Saans teen so nege-uur het ons verdaag en dan het ek in die hoofstraat van Bethnal Green afgedwaal. Soms het ek ‘n bus gevat wat nie eens naby my huis draai nie, en net op die boonste verdieping gesit terwyl dit rondry en ek, al meer weemoedig, na die wêreld kyk. Self het ek nooit gehuil nie, dit is nie my styl nie, maar ek het al meer van ‘n knop in my bors begin voel. Al die mense wat ek op die sypaadjies gesien het – die mooies, die lelikes, die oues, die jonges, almal het vir my so geweldig hartseer gelyk.
Ek het in Queen’s Park gewoon saam met ‘n hartseer Italiaanse meisie wat nooit oor haar verlede wou praat nie. Ek het later vir haar moeg geraak en ek wou nie meer huis toe gaan nie. Wanneer ek nie gewerk het nie, het ek in strate rondgedwaal terwyl ek Dead Can Dance op my oorfone luister of in Starbucks gesit en te veel koffie gedrink. Ek was bang vir die verlede en ek was bang vir die toekoms en dit het al meer duidelik begin lyk dat ek nie eendag Indië toe sal gaan om salige rus te vind nie, maar dat ek eerder na Suid-Afrika sou terugkeer, ‘n regte werk sou kry en ‘n gewone mens sou moes raak. Die boekwinkel wou my bevorder tot klerk in die korporatiewe rekeninge-afdeling, maar ek het meer gehou van my huidige werk, wat behels het dat ek die boeke in die rekenaarafdeling elke dag moes alfabetiseer en soms die inligtingtoonbank moes beman. Ek wou nie groot word nie en ek het myself jammer gekry.
Mick, die ontnugterde sosialis, het tydens een Boeddhistiese gesprek met ons gedeel dat sy vrou gestremd is en dat hy haar voltyds versorg. Hy kry ‘n staatstoelae as versorger en hy voel soms skuldig dat sy vrou se teenspoed hom verlos het van werk. Een van die huisvrouens het een aand begin snik en vertel alles wat sy nog ooit gedoen het, was ‘n flop. Nou het sy Boeddhisme aangepak, maar sy kan haarself nie eens so ver kry om elke dag te mediteer nie, sy is bang dit gaan ook ‘n flop wees. Ek onthou die sielkundige (‘n erg irriterende vrou en blykbaar ‘n aspirant fag hag) het elke keer vir die gay Jamaikaan vertel hoe mal sy oor flieks met kaal mans is – “Men getting their kits off, ooh!”
Oor sulke goed het ons gesels.
Een aand het die Australiese meisie in ons groep geweldig begin huil, so woes dat mense haar moes vashou soos sy heen en weer geruk het. Ek kan nie eens onthou waaroor nie. Selfs nadat sy klaar gehuil het, het sy gesit en snik terwyl ons oor die Boeddha en ons lewens praat. Die volgende Saterdag het ek in Camden Town rondgeloop en haar daar op die sypaadjie raakgesien. Sy was saam met vriende. Ek het na haar geroep en toe sy my raaksien, het sy ge”cringe” – ek vermoed sy wou nie hê haar vriende moet weet wat sy Donderdagaande doen nie, of sy was skaam oor die vorige week se drama. Ek het toe maar net gegroet en weer koers gekry. En weer die res van die dag alleen rondgeflenter.
Ná so drie maande het die groep skielik end gekry. Jayanatha het aan die begin van een ontmoeting aangekondig dit is die laaste een, en pleks van ‘n praatjie het ons die hele twee ure gemediteer. En toe het ons verdaag. Niemand het mekaar se foonnommers of eposadresse gevra nie. Wat sou ons ook tog verder vir mekaar sê? Ek het nog vir so paar meditasieklasse gegaan, maar nie weer die res gesien nie, en toe maar daarmee ook opgehou.
In die boekwinkel waar ek gewerk het, was ek die stil outjie. Die res van die boekverkopers was almal 20something Engelse wat baie oor dwelms en hip hop gesels het, goeters wat ek nie so mooi verstaan het nie. Hulle het my genoem “Bertus the Mild Mannered Bookseller”. Van hulle het regtig gedink ek is heilig, het ek eendag besef, want een meisie genaamd Sally het my sommer uit die bloute “Buddhist Bertus” begin noem sonder dat ek vir enigiemand van my Donderdagstreke vertel het. Ek dink Sally het ‘n crush op my gehad. “Oh, I love Buddhist Bertus” het sy gesê. En toe sy my eendag ‘n sigaret op ‘n personeelpartytjie sien rook, toe het sy gesê: “Oh no, I much prefer Buddhist Bertus.”
Ek moet bieg, ek het ook van hom gehou.