Feeds:
Posts
Comments

konsolidasie

Ek het besluit om my blogteenwoordigheid te konsolideer by

http://saligestilte.wordpress.com

Dis my laaste skuif.

‘n SMS in ‘n onlangse By:
“Baie geluk aan die duisende papbroek polities korrekte Christene wat op die punt gekom het waar hulle die moed het om saam te span om een keer hul geloof te verdedig. Hoekom moet ons altyd die ander wang draai en alles wat na ons kom in liefde aanvaar? Kan ons nie asseblief begin met ‘n veldtog teen die misbruik van die Here se naam nie?”

***

In die jare rondom die eeuwending toe die 12de eeu die 13de eeu geword het, het pous Innocentius III onder sy Europese kudde voorbrand gemaak vir ‘n militêre veldtog na die Heilige Land – ‘n ekspedisie wat volgens hom in die verowering van Jerusalem sou uitloop, maar wat uiteindelik die rampspoedige Vierde Kruistog sou word.

Die onlangs afgelope Tweede en Derde Kruistogte het vir die Christendom redelik min welslae opgelewer, die helde van die vorige kruistogte was nie weer beskikbaar nie – Richard Leeuehart van Engeland was oorlede en koning Filippus van Frankryk is deur paleisintrige en seksskandale besig gehou. Innocentius III moes dus nuwe rekrute vir sy kruistog vind en dit het hy gedoen deur charismatiese predikers – sê maar die Billy Grahams van sy dag – na die lande van Noord-Europa te stuur om die laer adelikes en die gepeupel deur lewendige prediking met godvrugtige entoesiasme te vul en so soldate vir Christus op te kommandeer.

Een van dié predikers, blyk dit uit geskrifte van die Cisterciënsiese kerkhistorikus Ralf van Coggeshall, was ene Fulk van Neuilly. Hy was nie die bekendste of die suksesvolste nie, maar hy was nogtans interessant.

Fulk het blykbaar ‘n aptyt soos ‘n beer gehad en het enigiets geëet wat mense voor hom neergesit het, ‘n eienskap wat hom die harte van gewone Christene help wen het in ‘n tyd toe die meeste geestelikes anderwêreldse bleeksiele met ‘n voorliefde vir die vas was.

Sy prediking het selfs meer gedoen om hom (en die Kruistogte wat hy gepropageer het) gewild te maak.

Ons lees hy het ‘n dawwerende stem gehad. By sommige van sy saamtrekke het hy selfs geloofsgenesings gedoen. En wanneer hy gepreek het, was dit veral sy tirades teen die sonde wat toegejuig is.

Sy gunsteling sondaars was geldskieters en owerspelige vroue. Fulk het nie ‘n goeie woord oor dié twee groepe te sê gehad nie.

Die gevolg van sy prediking was dat honderde (na sy eie bewering 200 000) Christene hulle as soldate vir die Kruistog aangemeld het.

Die geskiedenis van dié Vierde Kruistog is verder welbekend. Die gepeupel van Europa het ooswaarts gestroom en op pad besluit dat hulle hulself nie sal kan inhou totdat hulle die Moslemlande bereik het nie. Toe hulle die Middelandse See haal, het hulle net daar uit hul pad geswenk en op die stad Konstantinopel – hoofsetel van die Griekse Christendom – neergesak. Die Kruisvaarders, almal Latynse Christene, het dié stad ingeneem, die inwoners voor die voet verkrag en vermoor, die kerke afgebreek, die huise geplunder en so die glorie van die Bisantynse Ryk tot ‘n skielike einde gebring. Net so. Kaboem! Bloed in die strate.

***

Laat ons tob oor Fulk van Neuilly, daardie Franse godsman met die groot aptyt en die weersin in geldskieters en owerspelige vroue. Dalk was hy ‘n skakel in dié vrome proses wat uiteindelik op soveel bloedvergieting uitgeloop het, maar seker nie ‘n noodsaaklike skakel nie.

As mens hom voor jou oë oproep, dan sien jy hoe hy ‘n podium of ‘n preekstoel bestyg. Aan sy voete is die gepeupel, ongeletterde Christene wat seker nog nooit ‘n Bybel voor oë gehad het nie, mense wat nouliks hulself op ‘n kaart sou kon vind, wat nog te sê Palestina. En dan het hy begin preek.

Begin preek deur teen die geldskieters en die owerspelige vroue uit te vaar.

As konteks vir jou minder belangrik is, sou jy dit kon begin vergelyk met die Nazi’s wat ook hul prediking, die soort wat ook uiteindelik op soveel bloedvergieting sou uitloop, begin het deur teen Jode uit te vaar. Of Mugabe wat (skuim om die mond, wil mens jou voorstel) verklaar dat homoseksuele erger as honde is. Diegene wat daarna luister weet sommer ‘n bloedbad van een of ander aard is naby.

Altyd eers die maklike teiken. Die sondaar. Die skare wat “hoor-hoor” skree. Die adrenalien wat begin vloei. Die opgehefte vuiste. Die geslypte kapmesse. Die vrome legioene. Die krete van ‘n vrou wat deur soldate verkrag word. Kinders se bloed.

***

Dis verstommend hoe sterk die Christendom in Fulk se tyd was. Dis verstommend hoe sterk die Christendom in Fulk se teenwoordigheid was.

As mens die syfers glo, was meer as 95% van die bevolking van Europa destyds ongeletterd. Die eerste Bybel sou eers oor ‘n paar eeue gedruk word. En wanneer mense die Bybel tydens ‘n kerkdiens of ‘n mis gehoor het, was dit in Latyn, wat niemand verstaan het nie. Mens kan dus redelik seker wees die skare wat na Fulk geluister het, sou nie juis die Bybel geken het nie. Indien Fulk self ooit ‘n Bybel gelees het, het dit waarskynlik nie daardie evangelies ingesluit waarin Jesus sy liefde vir geldskieters en owerspelige vroue verklaar nie.

Maar die Christendom was gespierd.

Ek wonder wat is die geletterdheidsyfer in Nigerië, die land waar die Christendom (en spesifiek die evangeliese soort) die vinnigste groei. Ek wonder hoeveel mense in Brasilië, waar pentakostalisme hand oor voet toeneem, besit Bybels. Die Christendom, besef ons tot ons verbasing, groei die vinnigste daar waar mense nie die Bybel kan lees nie. Ons wonder, is dit moontlik om ‘n getalryke en ‘n gespierde Christendom te hê daar waar mense die bergpredikasie ken, of ten minste daar waar mense die bergpredikasie ernstig opneem.

Peilings toon tot 90% van Amerikaners is Christene. Meer as die helfte weet nie wie die bergpredikasie gelewer het nie. Meer as die helfte kan nie die tien gebooie opnoem nie. Die meerderheid hou nie van Arabiere en gays nie.

In Saterdag se By is daar ‘n SMS van ‘n Christen wat sy medegelowiges vra om meer veldtogte soos die een teen Maas te voer. “Hoekom moet ons altyd die ander wang draai en alles wat na ons kom in liefde aanvaar?” vra dié soldaat-vir-Christus. Lesers dink onwillekeurig aan Christen-aktiviste wat briewe teen die doodstraf vir koerante skryf en dan verklaar dat die Bybel ‘n “oog vir ‘n oog” gelas. Dié mense is nie ongeletterd nie. Hulle is bloot mense wat nog nie die Bybel gelees het nie, hul woorde sê dit by implikasie self.

Wanneer was die Christendom op sy sterkste? In die ongeletterde Middeleeue.

Wanneer het mense die wapen opgetel vir Christus (benewens nou Petrus se oorkappery)? In die Kruistogte, toe elke provinsie in Europa se enigste Bybel ‘n handgeskrewe Latynse manuskrip êrens in ‘n klooster was.

Mense wat afskeid neem van die veglustige tipe Christendom, so lyk dit vir my, doen dit dikwels nie omdat hulle minder gereeld die Bybel lees nie, maar eerder omdat hulle méér gereeld die Bybel lees.

As daar iets in die Bybel is wat die moeite werd is (ek weet nie self of dit daar is nie, ek hoop so, en ek soek die versies uit wat vir my na so iets lyk), is dit iets wat jou van vrees vrymaak. Nie net die vrees vir Deon Maas en vrees vir The Golden Compass en die vrees vir Gareth Cliff nie, maar vrees vir sondaars en vrees vir straf.

As jy van vrees vry is, hoef jy nie meer die dinge te doen wat Kruisvaarders doen nie. Dan draai jy steeds nie altyd die ander wang nie; jy wil nie altyd nie en jy hoef nie altyd nie. Maar soms doen jy dit wel, want jy voel nie jy hoef om jou oorlewing te veg nie.

As jy van vrees vry is, het jy nie ‘n probleem daarmee om mense te vergewe as hulle anders as jy dink nie, want jy weet dit maak aan jou siel en aan hul siel se ewige lot absoluut geen verskil nie.

En jy het geen probleem daarmee om jou naaste – sommige in elkgeval – so lief te hê as jouself nie, want jy weet mense is belangriker as idees.

Wie is Bertus?

Vra jy die internet, dan kry jy die volgende antwoord:

Ik ben Bertus Lap (eigenlijk is het Bertus Tjeerd Lap) en ik ben geboren op 18 januari 1985. Ik werd geboren in het ziekenhuis van Drachten, maar mijn ouders woonden toen in Ureterp. Daar heb ik gewoond tot mijn 16e. Ik ben de jongste van een gezin met 4 kinderen. Ik heb twee inmiddels getrouwde zussen (Coby en Rineke) en nog een broer (Gerard).

Toen ik ging verhuizen naar Staphorst kwam ik Rédien tegen. Al gauw kregen we toen verkering. In onze verkeringstijd zagen we elkaar heel vaak omdat we allebei de Havo en de Pabo hebben gedaan. Nu zien we elkaar niet meer zo vaak, omdat ik leerkracht ben op een basisschool in Veenendaal en in Lunteren woon. Maar als we straks getrouwd zijn zien we elkaar natuurlijk wel weer elke dag! Rédien is het allerliefste meisje wat ik ooit gezien heb. Ze is echt heel lief!!!  

Photobucket

Photobucket

Photobucket

Photobucket

Photobucket

Photobucket

Photobucket

Photobucket

Dagbreek op Hermanus

Photobucket

Photobucket

Photobucket

Photobucket

Photobucket

Photobucket

Photobucket

Gode

Slaan jy enige gidsboek oor ons dorp oop, of luister jy na die praatjies van rugsakreisigers wat onder mekaar fluister, sal jy dieselfde opgewonde storie oor ons dorp hoor. Hulle vertel jou van ons trots. Ons dorp is een van net drie plekke in die wêreld waar jy met die blote oog vanaf die kus na die gode kan kyk.

Daar is nog twee plekke in Nieu-Seeland, maar Nieu-Seeland is ‘n duur en ‘n goddelose plek. Wie sal daar gaan kyk?

Pelgrims kom graag na óns dorp om na die gode te kyk.

Party mense hou verby om na ‘n ander dorp te gaan, nie te ver van hier nie, waar mens jouself glo in ‘n hok tot onder die water kan laat sak om van naby na duiwels te kyk. Ander kom weer hierheen en ignoreer die gode, gaan eerder na ons kroeë vir wêreldse genot.

Maar verreweg die meeste besoekers is pelgrims. Hulle kom vir ons gode.

Baie van hulle sit roosblare en laventeltakkies in hul sakke. As hulle ‘n god êrens in die water sien, gooi hulle van dié offers op die water, staan terug met hul hande voor hul bors saamgeklem en sing saggies ‘n gesang, te sag vir ander mense om te hoor. Die meeste bring ook kameras. As hulle in pare kom, sal die een soms ‘n foto van die ander neem waar hulle glimlaggend langs die see staan terwyl ‘n god in die agtergrond by die water uitloer. Hulle vat dié kameras huis toe, laat raam die fotos en sit dit seker op ‘n tafeltjie onder ‘n spieël in hul voorportaal. As hul meer skeptiese vriende kom kuier, tel hulle die foto op en sê, “Kyk, die gode is regtig.”

Hul skeptiese vriende glimlag soms simpatiek, of as hulle minder geduld het, snork hulle en sê, “Jy kan mos sien dis ‘n klip daardie, julle gelowiges sien ook net wat julle wil.”

“Is nie,” sê die gasheer, “jy kan tog sien dis ‘n stert, kyk na die mik, kyk na die vinne, ek sweer dit is ‘n god,” en in hul ywer om hul gaste te oortuig, dik hulle soms selfs die waarheid aan, vertel dat mens die gode kan hoor sing, dat ‘n soet reuk soos frangipanibloeisels die lug vul wanneer ‘n god naby is.

Vir diegene wat hier woon, is dit moeilik om skepties te wees. Jy sien die gode elke dag, hulle word so alledaags soos die sonskyn en die wind.

Natuurlik sien niemand ooit ‘n god in sy geheel nie, maar as jy al die hoeke bymekaartel wat die gode van tyd tot tyd bo die water lug, kan jy ‘n mooi prentjie in jou kop aanmekaarsit van hoe ‘n god lyk. Meestal steek die gode net die kroontjie van hul kop of die boggel van hul rug bokant die water uit. Soms sal daar selfs lawwe gode wees wat spoeg. En soms, as die god sy vaal ou lyf effens bokant die water gelug het, sug hy hard sodat jy hom op die kus kan hoor. Dan antwoord die mense op die kus – veral die vroue – deur na hul asem te snak. So gesels ons met die gode in my dorp. Ons praat met hulle soos mense met mekaar praat. Asof dit iets alledaags is.

Daar is stories van ou gode wat al die water verlaat en op die land kom lê het. Sommige mense vertel stories – natuurlik het niemand dit al self gesien nie – van gode wat in die vlak branders kom lê het, gode so groot soos ‘n huis, met hartseer oë, wat mense voor die onmoontlike keuse geplaas het om die god te laat sterf of om sy wil te verontagsaam en hom in die water terug te stoot.

Of dit alles waar is, weet niemand. Hier waar die gode by ons kom kuier, bly hulle in die water. Hulle swem tog soms naby die strande, tot waar die branders begin skuim. Dan lyk dit asof jy tot by hulle kan uitswem. Maar hulle kom niks nader nie. En ons ken ons plek.
Daar loop ‘n heilige man met ‘n ramshoring hier rond. Soms as hy ‘n god gewaar, blaas hy die shofar, ‘n lang blaas, ‘n korte, weer twee langes. Dan hardloop kinders uit hul huise sonder om die deure agter hulle toe te maak en van die vrome vroue laat staan hul inkopiesakke net daar op die sypaadjie om eers te gaan kyk. Pelgrims spring op van die restauranttafels waar hulle wyn drink, en almal hardloop agter die shofar aan om te kyk of die god hierdie keer nie net sy logge stert en sy kroontjie en sy rug bokant die water gaan lug nie. Dalk, dink die mense, gaan hy hierdie keer sy gesig ook bo die water lug sodat hy ons gerus kan stel dat hy ons ook dophou.

Die gode doen dit nooit nie.

Party maande – van Maart tot Augustus – verdwyn die gode. Hulle vat die son met hulle saam. Dan bly die pelgrims ook weg. Dit word donker en koud en niemand praat veel van die gode nie.

Mens kan net raai wat die vroeë inwoners van hierdie gebied moes gedink het toe die gode die eerste keer so verdwyn het. Dalk het hulle gevrees die gode gaan nooit terugkom nie. Dalk het hulle geween en om vure gedans en hulself met swepe geslaan terwyl hulle die gode se vergifnis gevra het.

Deesdae weet ons van beter. Ons weet die gode kom altyd terug. Ons gaan gerus voort met ons besigheid en beplan selfs lank vooruit aan die lentefees wat ons met die gode se terugkeer gaan hou, die troebadoere wat van ver gaan kom sing, die jong maagde wat hier wyn gaan drink en gaan dans. Ons kies een van ons kinders wat ons vir die gode met toue vasbind.

En dan eendag, ‘n wonderlike dag, skitter die son op die water en die voëltjies drink nektaar in die veld. Ons hoor die shofar – hy weerklink vanaf die kus tot teen die berge, die bobbejane lug hul koppe bo die fynbos om te sien wat aangaan, motoriste stop net daar in die hoofstraat en hardloop nader, winkeliers laat staan hul deure en kasregisters oop om agter die geluid aan te hardloop. Iemand gryp die kind wat vasgebind is en ons hardloop agter die shofar aan, ons lag en ons huppel en ons dans, totdat ons die heilige man gekry het. Ons klim in ons skuite en ons vaar tot waar hy ons beduie en dan wag ons vir die gode, met sakke vol roosblare en laventel en die kind wat ons vir hom vasgebind het.

O, ons is lief hier vir die gode.

Baie mense wat ons nie ken nie het allerlei stories oor die gode – hulle bestaan nie, of hulle bestaan maar is net natuurlike verskynsels. Ons luister daarna, ons knik ons koppe, ons is baie beleefd. Maar as jy eers so saam met die gode geleef het, as jy elke jaar gesien het hoe hulle ons wêreld weer lewendig kom maak, as jy op die kus gestaan en met hulle gesels het, dan is dit nie vir jou moontlik om te twyfel nie.

Party mense sê nie een van die gode sal ooit sy kop uitsteek om terug te kyk nie. Hulle sê nie een van die gode sal ons ooit laat verstaan hulle weet ook van ons nie. Ek sê ons het dit nie nodig nie. Ons weet wat ons weet.

Ek wonder soms wie was die eerste stille persoon wat in die 17de eeu begin wonder het of dit verkeerd is om ‘n ander mens as ‘n slaaf aan te hou, met warm ysters te brandmerk, met swepe te slaan en te laat werk totdat hy dood is. Dalk het daardie mens nie eens sy eie slawe verkoop nadat hy die vraag gevra het nie. Dalk het hy dit nooit eens finaal in sy kop uitgeklaar of dit reg of verkeerd is nie. Dalk het hy net een aand laat in ‘n vriend se oor gefluister dat hy onseker is of dit reg is om slawe aan te hou. En dalk het hy so die vraag ook in sy vriend se gemoed wakker gemaak en het daai vriend dit vir iemand anders ook gevra, sodat die twyfel gegroei het en mense na slawe begin kyk het soos hulle na hul medemens gekyk het. Totdat een dapper siel eendag opgestaan en die tot nog toe on-dink-bare gesê het: “Dit is verkeerd, dit moet verander.”Die Britste parlementariër Matthew Parris het een keer opgemerk dat die gety van morele sentiment baie stadig draai. “It turns first in the unconscious mind. We feel – not opposed to something, but vaguely uncomfortable about it.”Ek weet mense het gelag die eerste keer toe iemand gevra het of vroue nie dalk gelyk met mans kan meeding nie. Om nie te praat van die eerste wit ou wat voorgestel het dat swart mense dalk soos mense behandel kan word nie. Die eerste keer dat iemand voorgestel het dat gay mense dalk as normaal behandel kan word, is daar sekerlik op hom of haar gespoeg. En tog verander dit weldra en word iets wat goed is in mense se harte wakker gemaak. Eers is daar iemand wat dapper genoeg is om te vra of reg en verkeerd nie buite sy eie stam of groep of nasie of geslag ook geld nie, iemand wat besef dit is nie vir altyd moontlik om by ander se pyn verby te kyk nie. Die fluisterings word algaande harder, en eendag, een wonderlike sonskyn dag, is die gras groen teen die hange, die aarde is nuut en vry, en dit alles omdat mense ‘n punt bereik het dat hulle besef het onreg kan nie eindeloos voortduur nie.

Ek glo dit is hoe die wêreld werk. Ek glo dat die geskiedenis aan die kant van geregtigheid en ons beter eienskappe is.

Ek glo dat ons almal wel nog dikwels wreed is en nog nie eens besef hoeveel pyn ons veroorsaak nie, maar ek glo ook dat die mensdom sy stadige mars in die rigting van groter deernis en groter geregtigheid sal voortsit, selfs nadat ek gesterf het.

En dan my punt: Ek glo dit is onvermydelik dat mense se oë eendag sal moet oopgaan en dat ons sal moet besef die boosheid wat ons diere aandoen, kan nie vir altyd voortgaan nie. Nie omdat dit fisiek onmoontlik is om dit voort te sit nie, maar omdat die menslike gewete ons sal inhaal.

In JM Coetzee se Lives of Animals word die hoofkarakter gevra hoekom sy haar oor diere ontferm. Sy antwoord, “Omdat ek my siel wil red.” Dié antwoord klink op die oog af melodramaties en ooremosioneel, maar nogtans glo ek al meer dit is waar. Ek glo al meer die mensdom kom by ‘n punt waar hulle kan bewys dat hulle ‘n siel het. Nie ‘n siel in een of ander metafisiese of geestelike sin nie – eerder net die kapasiteit om te wys ons kan ons oë oopmaak vir ‘n vorm van lyding wat ons tog te maklik sou kon ignoreer, ‘n vermoë om ons te ontferm oor iemand wat so weerloos is dat hulle nie eens vir ons ontferming kan vra nie.

Ek vertaal die woorde van die joernalis Matthew Scully: “Diere is nou meer as ooit ‘n toets vir ons karakter, vir die mensdom se vermoë om empatie, eer en geregtigheid voor te hou. Dit is onvermydelik dat ons eendag sal leer om diere met deernis te behandel; nie omdat hulle regte of mag oor ons of een of ander aanspraak op gelykheid het nie, maar juis omdat hulle ongelyk en weerloos voor ons staan. Diere kan so maklik misgekyk word, hul belange kan so maklik weggevee word. Wanneer ons as mense hul wêreld betree, of dit nou op plase is, of in die plaaslike diereskut of op Afrika se grasvelde, betree ons dit as die bringers van terreur, maar ook van ontferming.”

Dit is die naaste wat ek deesdae aan ‘n geestelike belewenis kan kom. Daar is geen rasionele rede waarom ons oor diere sou hoef om te gee (of oor slawe of vroue for that matter) nie, maar tog doen ons dit. Tog is daar iets in die oë van hulpelose honde wat van ons afhanklik is om te kan eet, of in die oë van slagdiere wat niks anders as ons ontferming het om hulle van ‘n marteldood te red nie, tog is daar iets in daardie oë wat iets diep binne in ons aanspreek en ons soms beweeg om beter te wees as wat ons hoef.

Ons kan nie pyn vir altyd ignoreer nie. Ons kan nie vir altyd ons selfsug voor ons gewete verhef nie. Ons kan nie vir altyd die gety van deernis en menslikheid terug hou nie. En ek glo vas ons sal ook nie.