‘n SMS in ‘n onlangse By:
“Baie geluk aan die duisende papbroek polities korrekte Christene wat op die punt gekom het waar hulle die moed het om saam te span om een keer hul geloof te verdedig. Hoekom moet ons altyd die ander wang draai en alles wat na ons kom in liefde aanvaar? Kan ons nie asseblief begin met ‘n veldtog teen die misbruik van die Here se naam nie?”
***
In die jare rondom die eeuwending toe die 12de eeu die 13de eeu geword het, het pous Innocentius III onder sy Europese kudde voorbrand gemaak vir ‘n militêre veldtog na die Heilige Land – ‘n ekspedisie wat volgens hom in die verowering van Jerusalem sou uitloop, maar wat uiteindelik die rampspoedige Vierde Kruistog sou word.
Die onlangs afgelope Tweede en Derde Kruistogte het vir die Christendom redelik min welslae opgelewer, die helde van die vorige kruistogte was nie weer beskikbaar nie – Richard Leeuehart van Engeland was oorlede en koning Filippus van Frankryk is deur paleisintrige en seksskandale besig gehou. Innocentius III moes dus nuwe rekrute vir sy kruistog vind en dit het hy gedoen deur charismatiese predikers – sê maar die Billy Grahams van sy dag – na die lande van Noord-Europa te stuur om die laer adelikes en die gepeupel deur lewendige prediking met godvrugtige entoesiasme te vul en so soldate vir Christus op te kommandeer.
Een van dié predikers, blyk dit uit geskrifte van die Cisterciënsiese kerkhistorikus Ralf van Coggeshall, was ene Fulk van Neuilly. Hy was nie die bekendste of die suksesvolste nie, maar hy was nogtans interessant.
Fulk het blykbaar ‘n aptyt soos ‘n beer gehad en het enigiets geëet wat mense voor hom neergesit het, ‘n eienskap wat hom die harte van gewone Christene help wen het in ‘n tyd toe die meeste geestelikes anderwêreldse bleeksiele met ‘n voorliefde vir die vas was.
Sy prediking het selfs meer gedoen om hom (en die Kruistogte wat hy gepropageer het) gewild te maak.
Ons lees hy het ‘n dawwerende stem gehad. By sommige van sy saamtrekke het hy selfs geloofsgenesings gedoen. En wanneer hy gepreek het, was dit veral sy tirades teen die sonde wat toegejuig is.
Sy gunsteling sondaars was geldskieters en owerspelige vroue. Fulk het nie ‘n goeie woord oor dié twee groepe te sê gehad nie.
Die gevolg van sy prediking was dat honderde (na sy eie bewering 200 000) Christene hulle as soldate vir die Kruistog aangemeld het.
Die geskiedenis van dié Vierde Kruistog is verder welbekend. Die gepeupel van Europa het ooswaarts gestroom en op pad besluit dat hulle hulself nie sal kan inhou totdat hulle die Moslemlande bereik het nie. Toe hulle die Middelandse See haal, het hulle net daar uit hul pad geswenk en op die stad Konstantinopel – hoofsetel van die Griekse Christendom – neergesak. Die Kruisvaarders, almal Latynse Christene, het dié stad ingeneem, die inwoners voor die voet verkrag en vermoor, die kerke afgebreek, die huise geplunder en so die glorie van die Bisantynse Ryk tot ‘n skielike einde gebring. Net so. Kaboem! Bloed in die strate.
***
Laat ons tob oor Fulk van Neuilly, daardie Franse godsman met die groot aptyt en die weersin in geldskieters en owerspelige vroue. Dalk was hy ‘n skakel in dié vrome proses wat uiteindelik op soveel bloedvergieting uitgeloop het, maar seker nie ‘n noodsaaklike skakel nie.
As mens hom voor jou oë oproep, dan sien jy hoe hy ‘n podium of ‘n preekstoel bestyg. Aan sy voete is die gepeupel, ongeletterde Christene wat seker nog nooit ‘n Bybel voor oë gehad het nie, mense wat nouliks hulself op ‘n kaart sou kon vind, wat nog te sê Palestina. En dan het hy begin preek.
Begin preek deur teen die geldskieters en die owerspelige vroue uit te vaar.
As konteks vir jou minder belangrik is, sou jy dit kon begin vergelyk met die Nazi’s wat ook hul prediking, die soort wat ook uiteindelik op soveel bloedvergieting sou uitloop, begin het deur teen Jode uit te vaar. Of Mugabe wat (skuim om die mond, wil mens jou voorstel) verklaar dat homoseksuele erger as honde is. Diegene wat daarna luister weet sommer ‘n bloedbad van een of ander aard is naby.
Altyd eers die maklike teiken. Die sondaar. Die skare wat “hoor-hoor” skree. Die adrenalien wat begin vloei. Die opgehefte vuiste. Die geslypte kapmesse. Die vrome legioene. Die krete van ‘n vrou wat deur soldate verkrag word. Kinders se bloed.
***
Dis verstommend hoe sterk die Christendom in Fulk se tyd was. Dis verstommend hoe sterk die Christendom in Fulk se teenwoordigheid was.
As mens die syfers glo, was meer as 95% van die bevolking van Europa destyds ongeletterd. Die eerste Bybel sou eers oor ‘n paar eeue gedruk word. En wanneer mense die Bybel tydens ‘n kerkdiens of ‘n mis gehoor het, was dit in Latyn, wat niemand verstaan het nie. Mens kan dus redelik seker wees die skare wat na Fulk geluister het, sou nie juis die Bybel geken het nie. Indien Fulk self ooit ‘n Bybel gelees het, het dit waarskynlik nie daardie evangelies ingesluit waarin Jesus sy liefde vir geldskieters en owerspelige vroue verklaar nie.
Maar die Christendom was gespierd.
Ek wonder wat is die geletterdheidsyfer in Nigerië, die land waar die Christendom (en spesifiek die evangeliese soort) die vinnigste groei. Ek wonder hoeveel mense in Brasilië, waar pentakostalisme hand oor voet toeneem, besit Bybels. Die Christendom, besef ons tot ons verbasing, groei die vinnigste daar waar mense nie die Bybel kan lees nie. Ons wonder, is dit moontlik om ‘n getalryke en ‘n gespierde Christendom te hê daar waar mense die bergpredikasie ken, of ten minste daar waar mense die bergpredikasie ernstig opneem.
Peilings toon tot 90% van Amerikaners is Christene. Meer as die helfte weet nie wie die bergpredikasie gelewer het nie. Meer as die helfte kan nie die tien gebooie opnoem nie. Die meerderheid hou nie van Arabiere en gays nie.
In Saterdag se By is daar ‘n SMS van ‘n Christen wat sy medegelowiges vra om meer veldtogte soos die een teen Maas te voer. “Hoekom moet ons altyd die ander wang draai en alles wat na ons kom in liefde aanvaar?” vra dié soldaat-vir-Christus. Lesers dink onwillekeurig aan Christen-aktiviste wat briewe teen die doodstraf vir koerante skryf en dan verklaar dat die Bybel ‘n “oog vir ‘n oog” gelas. Dié mense is nie ongeletterd nie. Hulle is bloot mense wat nog nie die Bybel gelees het nie, hul woorde sê dit by implikasie self.
Wanneer was die Christendom op sy sterkste? In die ongeletterde Middeleeue.
Wanneer het mense die wapen opgetel vir Christus (benewens nou Petrus se oorkappery)? In die Kruistogte, toe elke provinsie in Europa se enigste Bybel ‘n handgeskrewe Latynse manuskrip êrens in ‘n klooster was.
Mense wat afskeid neem van die veglustige tipe Christendom, so lyk dit vir my, doen dit dikwels nie omdat hulle minder gereeld die Bybel lees nie, maar eerder omdat hulle méér gereeld die Bybel lees.
As daar iets in die Bybel is wat die moeite werd is (ek weet nie self of dit daar is nie, ek hoop so, en ek soek die versies uit wat vir my na so iets lyk), is dit iets wat jou van vrees vrymaak. Nie net die vrees vir Deon Maas en vrees vir The Golden Compass en die vrees vir Gareth Cliff nie, maar vrees vir sondaars en vrees vir straf.
As jy van vrees vry is, hoef jy nie meer die dinge te doen wat Kruisvaarders doen nie. Dan draai jy steeds nie altyd die ander wang nie; jy wil nie altyd nie en jy hoef nie altyd nie. Maar soms doen jy dit wel, want jy voel nie jy hoef om jou oorlewing te veg nie.
As jy van vrees vry is, het jy nie ‘n probleem daarmee om mense te vergewe as hulle anders as jy dink nie, want jy weet dit maak aan jou siel en aan hul siel se ewige lot absoluut geen verskil nie.
En jy het geen probleem daarmee om jou naaste – sommige in elkgeval – so lief te hê as jouself nie, want jy weet mense is belangriker as idees.