Ek wonder soms wie was die eerste stille persoon wat in die 17de eeu begin wonder het of dit verkeerd is om ‘n ander mens as ‘n slaaf aan te hou, met warm ysters te brandmerk, met swepe te slaan en te laat werk totdat hy dood is. Dalk het daardie mens nie eens sy eie slawe verkoop nadat hy die vraag gevra het nie. Dalk het hy dit nooit eens finaal in sy kop uitgeklaar of dit reg of verkeerd is nie. Dalk het hy net een aand laat in ‘n vriend se oor gefluister dat hy onseker is of dit reg is om slawe aan te hou. En dalk het hy so die vraag ook in sy vriend se gemoed wakker gemaak en het daai vriend dit vir iemand anders ook gevra, sodat die twyfel gegroei het en mense na slawe begin kyk het soos hulle na hul medemens gekyk het. Totdat een dapper siel eendag opgestaan en die tot nog toe on-dink-bare gesê het: “Dit is verkeerd, dit moet verander.”Die Britste parlementariër Matthew Parris het een keer opgemerk dat die gety van morele sentiment baie stadig draai. “It turns first in the unconscious mind. We feel – not opposed to something, but vaguely uncomfortable about it.”Ek weet mense het gelag die eerste keer toe iemand gevra het of vroue nie dalk gelyk met mans kan meeding nie. Om nie te praat van die eerste wit ou wat voorgestel het dat swart mense dalk soos mense behandel kan word nie. Die eerste keer dat iemand voorgestel het dat gay mense dalk as normaal behandel kan word, is daar sekerlik op hom of haar gespoeg. En tog verander dit weldra en word iets wat goed is in mense se harte wakker gemaak. Eers is daar iemand wat dapper genoeg is om te vra of reg en verkeerd nie buite sy eie stam of groep of nasie of geslag ook geld nie, iemand wat besef dit is nie vir altyd moontlik om by ander se pyn verby te kyk nie. Die fluisterings word algaande harder, en eendag, een wonderlike sonskyn dag, is die gras groen teen die hange, die aarde is nuut en vry, en dit alles omdat mense ‘n punt bereik het dat hulle besef het onreg kan nie eindeloos voortduur nie.
Ek glo dit is hoe die wêreld werk. Ek glo dat die geskiedenis aan die kant van geregtigheid en ons beter eienskappe is.
Ek glo dat ons almal wel nog dikwels wreed is en nog nie eens besef hoeveel pyn ons veroorsaak nie, maar ek glo ook dat die mensdom sy stadige mars in die rigting van groter deernis en groter geregtigheid sal voortsit, selfs nadat ek gesterf het.
En dan my punt: Ek glo dit is onvermydelik dat mense se oë eendag sal moet oopgaan en dat ons sal moet besef die boosheid wat ons diere aandoen, kan nie vir altyd voortgaan nie. Nie omdat dit fisiek onmoontlik is om dit voort te sit nie, maar omdat die menslike gewete ons sal inhaal.
In JM Coetzee se Lives of Animals word die hoofkarakter gevra hoekom sy haar oor diere ontferm. Sy antwoord, “Omdat ek my siel wil red.” Dié antwoord klink op die oog af melodramaties en ooremosioneel, maar nogtans glo ek al meer dit is waar. Ek glo al meer die mensdom kom by ‘n punt waar hulle kan bewys dat hulle ‘n siel het. Nie ‘n siel in een of ander metafisiese of geestelike sin nie – eerder net die kapasiteit om te wys ons kan ons oë oopmaak vir ‘n vorm van lyding wat ons tog te maklik sou kon ignoreer, ‘n vermoë om ons te ontferm oor iemand wat so weerloos is dat hulle nie eens vir ons ontferming kan vra nie.
Ek vertaal die woorde van die joernalis Matthew Scully: “Diere is nou meer as ooit ‘n toets vir ons karakter, vir die mensdom se vermoë om empatie, eer en geregtigheid voor te hou. Dit is onvermydelik dat ons eendag sal leer om diere met deernis te behandel; nie omdat hulle regte of mag oor ons of een of ander aanspraak op gelykheid het nie, maar juis omdat hulle ongelyk en weerloos voor ons staan. Diere kan so maklik misgekyk word, hul belange kan so maklik weggevee word. Wanneer ons as mense hul wêreld betree, of dit nou op plase is, of in die plaaslike diereskut of op Afrika se grasvelde, betree ons dit as die bringers van terreur, maar ook van ontferming.”
Dit is die naaste wat ek deesdae aan ‘n geestelike belewenis kan kom. Daar is geen rasionele rede waarom ons oor diere sou hoef om te gee (of oor slawe of vroue for that matter) nie, maar tog doen ons dit. Tog is daar iets in die oë van hulpelose honde wat van ons afhanklik is om te kan eet, of in die oë van slagdiere wat niks anders as ons ontferming het om hulle van ‘n marteldood te red nie, tog is daar iets in daardie oë wat iets diep binne in ons aanspreek en ons soms beweeg om beter te wees as wat ons hoef.
Ons kan nie pyn vir altyd ignoreer nie. Ons kan nie vir altyd ons selfsug voor ons gewete verhef nie. Ons kan nie vir altyd die gety van deernis en menslikheid terug hou nie. En ek glo vas ons sal ook nie.