Die tydperk na 800 vC word veral gekenmerk deur ‘n toenemende neiging tot ‘n antikosmiese dualisme in die Hebreeuse wêreldbeeld. In teenstelling met die werklikheid waar God en die mens vroeër vrylik interaksie gehad het (vergelyk Abraham se gemaklike interaksie met God in die J-Pentateug), word die goddelikke werklikheid later weldra na ‘n ander werklikheidsfeer verplaas waartoe mense slegs deur uitsonderlike goddelikke openbaring (deur die Wet, die esoteriese tempelkultus en ongereelde visioenêre ervarings) toegang het. God word dus geskei van die beleefde werklikheid – iets wat kan dui op ‘n eksistensiële ontnugtering of vervreemding van dié hier en nou, maar wat ook op ‘n toenemende sekulêre beskouing van die aardse kan dui. Die godsdienskundige John Cumpsty praat hiervan as die oorgang van ‘n monistiese wêreldbeeld (waar God/gode deel van die een werklikheid is), na ‘n dualistiese wêreldbeeld (waar dié wêreld van die sakrale werklikheid gestroop word en God na ‘n ander werklikheidsfeer verplaas word). Die mens word gesien as ‘n deel van die aardse eerder as die geestelike werklikheid (vergelyk die verbintenis tussen Adam en adamah in die tweede skeppingsverhaal) en God word verdwyn dus uit die mens se regstreekse belewenis.’n Soortgelyke dualisme kan by die Grieke gesien word, waar ‘n verhewe werklikheid teenoor die stoflike gestel word. Pythagoras en Plato verwoord dit elk op ‘n eiesoortige manier, en dit was juis by die Platoniese model wat die Joodse werklikheidsverstaan in die Hellenistiese tydperk al meer ooreenkomste gevind het. Die Joodse geestelike werklikheid sou weldra aspekte van die Platoniese ideeryk aanneem. In Karen Armstrong se woorde: “This utterly static image of divinity would have an immense influence on Jews, Christians and Muslims, even though it had little in common with the God of revelation, who is constantly active, innovative and, in the Bible, even changes his mind . . .”
Die godsbegrip van Aristotles is wat uiteindelik geboorte sou gee tot die Westerse God van die filosowe – die Eerste Oorsaak, wat as’t ware tot die heelal geboorte gee en gelyk buite dit staan.
‘n Belangrike element wat die Jode (en Christene ) van die Grieke sou oorneem, is die siel, ‘n brug oor die dualisme. Die siel deel in die essensie van God en die anderwêreldse, en dus is die mens nie geheel en al uitgelewer aan die godvervreemde stoflose waarin sy vlees ditself bevind nie. Dié gedagte sou ‘n voorwaarde vir die Gnostiese, mistieke en ander vorme van regstreekse Godsbelewenis (nie afhanklik van die ongereelde openbarings waarvoor vroeëre Jode moes wag nie). Die siel se kapasiteit vir rasionele denke, sou ook die natuurlike teologie as ‘n weg oor die dualistiese kloof na God ontsluit.
In die Romantiese mistiek van die 19de eeu is daar ‘n agnostiese poging om die kloof tussen mens en God te oorbrug. Wordsworth beskryf God amper as die Oosterse Tao, ‘n misterieuse skoonheid – panteïstiese God wat jou ontwyk die oomblik as jy hom op die naam wil noem. En William Blake beskryf Jesus se dood as die dood van ‘n transendente god, een wat vervang word met ‘n goddelikheid wat die wêreld en lewe affirmeer en volledig imminent is. ‘n Idee word algaande deur filosowe en digters geformuleer van ‘n sekulêre mistiek – ‘n godheid wat nie transendent hoef te wees nie (vergelyk ook Hegel en Schopenauer se godsbegrip). Feuerbach se vernaamste kritiek teen God was dan ook dat dit ons van onsself en ons wêreld vervreem. In teenstelling met monoteïsme wat ‘n oplossing vir die dualisme in ‘n eskatologiese opheffing van die hier en nou vind, het Marx sy messiaanse hoop op die wêreldse geskiedenis eerder as anderwêreldse ingryping geplaas. Nietzsche het dié godverlatenheid uiteindelik met sy “God is dood”-maksim verwoord. Selfs al was God nie dood nie, het dit algaande duidelik geword God is ten minste onnodig. Die opheffing van die dualisme sou dié wêreld die nuwe tuiste van die sakrale maak, is gehoop. Wanneer Karen Armstrong oor Nietzsche skryf, skryf sy: “Now that God was dead, this world could take his place as the supreme value. Whatever comes back; whatever dies blooms again; whatever breaks is joined anew. Our world could be reversed as eternal and divine, attributes that had once applied only to the distant, transcendent God.”
In skerp teenstelling met dié hoopvolle gedagte, moet dit egter uitgewys word dat die 19de eeuse skrywers (Nietzsche inkluis) almal die wêreld sonder God uiteindelik as ‘n hopelose, somber plek beskou het.
Ondanks die somberheid van onder meer Sartre, is die sekulêre omgewing van die laat 20ste eeu een wat veel meer gemaklik en selfs optimisties is oor die verlies van God (die enorme optimisme van die nuwe ateïsme van Dawkins, Harris en Hitchens kan as ‘n latere voorbeeld hiervan gesien word). Iets heroïes word ook in die ateïsme van Merleau-Ponty, Camus en die Logiese Positiwisme (wat die semantiese ontoereikenheid van gesofistikeerde godsbeelde uitgewys het) aangetoon. Thomas Altizer in “The Gospel of Christian Atheism” het in soveel woorde gejuig dat die dood van God ons “liberate from a transcendent beyond”. Selfs die teoloë wat God se bestaan steeds aangehang het, moes in baie gevalle afskeid neem van minstens God se almagtigheid, wat in die nadraai van Auschwitz ondenkbaar geblyk te wees het, of het geargumenteer (soos in Tillich) dat ‘n persoonlike god ‘n gevaarlike idee is wat moet sterf. Eerder as ‘n synde, het Tillich God as verhewe bo bekende kategorieë van bestaan gesien, die grond van bestaan, ‘n simbool waarmee ons oor Syn self praat. Teilhard de Chardin het God op sy beurt as die einddoel van evolusie gesien, die omega punt van die heelal. Ook in De Chardin se identisering van God met die wêreld is daar egter ‘n afskeid van die transendente.
Enkele pogings om die transendente in stand te hou (Rahner, Balthasar) het die transendente in sielkundige en estetiese terme beskryf, maar kon nie die ontologiese dualisme van vroeër met integriteit laat herleef nie.
Die oorwegende gedagte, sou ek aanvoer, is dat die transendente – in die metafisiese sin wat dit in die klassieke Joodse en Hellenistiese tradisies ontstaan het, van sy intellektuele geloofwaardigheid ontneem is en waarskynlik uitgedien is (hoewel, uiteraard nie in populêre godsdiens nie). Sommige juig hieroor, terwyl ‘n al kleiner groep dit as rede vir pessimisme sien, of daarvoor probeer opmaak deur die transendente karakter van God te probeer handhaaf sonder om noodwendig ‘n dualistiese wêreldbeeld te propageer. Selfs laasgenoemde is slegs moontlik indien ‘n persoonlik-teïstiese godsbeeld afgelê word