Die filosoof Jean-Luc Marion onderskei tussen twee tipes afbeelding van God – die idool en die ikoon. Albei is poorte wat tussen ons wêreld en God se wêreld kom lê, plekkies waar ‘n ontmoeting tussen mens en God plaasvind.
Idool sluit by die Engelse woord “idol” aan en klink op die oog af negatief – party mense sou dit as “afgod” wou vertaal – maar Marion bedoel dit breër. ‘n Idool is ‘n beeld van God wat mense skep op grond van ‘n belewenis wat hulle van God gehad het. As ‘n Babiloniër Mardoek beleef het, sou hy ‘n beeld gebou het waarin hy iets van dié belewenis probeer saamvat. ‘n Kanaäniet sou dieselfde met Baäl gedoen het. ‘n Jood sou sy belewenis nie in ‘n beeld saamvat nie, maar eerder in ‘n boek waarin hy iets probeer beskryf van die idee van die God wat hy beleef het. Christene sal dikwels ‘n prentjie in hul kop hê, dalk net ‘n vae herinnering van ‘n emosie wat hulle eens tydens ‘n geestelike belewenis gehad het, of dalk ‘n Bybel wat God beskryf. Deepak Chopra het al ‘n boek geskryf genaamd “Who is God?” ‘n Idool is nie noodwendig negatief of eens vals nie. ‘n Idool is iets waarheen mens telkens teruggaan om jou te herinner aan hoe die God was wat jy ervaar het, iets wat jy ook vir ander mense kan voorhou en sê “Kyk, só is God”. ‘n Idool is ‘n poort waardeur ons God se wêreld betree.
‘n Ikoon is iets anders, dis soos ‘n een van daai houtprentjies wat jy in ‘n Ortodokse kerk vind. ‘n Ikoon word nie geskep ná ‘n geestelike ervaring nie – dit gaan die geestelike ervaring vooraf. ‘n Ikoon is ‘n poort waardeur God óns wêreld betreë. Jy beleef nie eers vir God en maak dan ‘n ikoon van hom nie, jy bou eers die ikoon, en daarna kom God na jou. As jy na ‘n ikoon gaan, as jy jou hande oplig om aan die beeld te raak of met jou kop teen die houtkruis kniel, is dit nie sodat jy kan omgaan met die God wat jy reeds ken nie, dis eerder sodat iets totaal nuut deur die poort van daardie ikoon jou wêreld kan binnekom.
‘n Ikoon is natuurlik nie net ‘n houtprentjie nie, maar kan ook iets anders wees. ‘n Stukkie van jou tuin selfs, die gesig van ‘n ander mens – iets met ‘n diepte wat totaal vreemd aan jou vertroude leefwêreld is en wat dus ‘n moontlike poort van ‘n gans misterieuse en gans anderse God kan wees.
Die woord ikoon is afgelei van die Griekse woord “eikoon”, wat ons onder meer teëkom in Kolossense 1:15 – Paulus skryf “Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie”, met beeld wat hier die vertaling van “eikoon” is en na Christus verwys het. Paulus verwys dus na Christus as iets wat aan Marion se beskrywing van ‘n ikoon sou voldoen – nie ‘n samevatting van God soos ons hom ken nie, maar ‘n poort waardeur ‘n gans nuwe God (of ‘n gans nuwe aspek van God) aan ons geopenbaar kan word. So ‘n Christus verloor alle betekenis as mens hom verstaan, en ek sal selfs wou argumenteer dat hy alle betekenis verloor as mens hom “ken”, want hy is juis in sy vreemdheid ‘n poort waardeur God na ons toe kom, eerder as ‘n poort waardeur ons na God gaan. Ek argumenteer dus vir Christus as ‘n ikoon eerder as ‘n idool.
Wanneer die filosofie van die 20ste eeu die dood van God as ‘n gegewe aanvaar, meen Marion dat dit God as idool is wat gesterf het. Sy mening is dat dit egter nie ‘n belewenis van God as ikoon uitsluit nie. Die God wat ons dus uit ons verlede met ons saamdra, is volgens hom nie meer met ons nie, maar daar is steeds iets wat vanuit die onbekende toekoms op ons leefwêreld inbreek, en daarmee kan hy saamleef. God is ‘n gawe áán ons, eerder as ‘n gawe wat deur ons geskenk word. God skep, eerder as om geskep te word.
Iets van Ruud Welten: “For Marion, this implies a crucial difference between science and theology. Science treats its subjects as objects. The animal is to the biologist what chemical reaction is to the chemist or what human behaviour is to the sociologist, all objects of science . . . Theology is not about objectified subjects, rather, it adopts a receptive openness toward that which is given”.
En dan hierdie mooie aanhaling: “Marion’s phenomenology of possibility is a phenomenology of hope rather than a crypto-theology. If theology is addressed at all, it is only in the context of a theology of hope. Marion will not show us God; he just makes sure there is room for God to show Himself!”
(aanhalings uit “God in France – Eight Contemporary French Thinkers on God” deur Peter Jonkers en Ruud Welten)