Slaan jy enige gidsboek oor ons dorp oop, of luister jy na die praatjies van rugsakreisigers wat onder mekaar fluister, sal jy dieselfde opgewonde storie oor ons dorp hoor. Hulle vertel jou van ons trots. Ons dorp is een van net drie plekke in die wêreld waar jy met die blote oog vanaf die kus na die gode kan kyk.
Daar is nog twee plekke in Nieu-Seeland, maar Nieu-Seeland is ‘n duur en ‘n goddelose plek. Wie sal daar gaan kyk?
Pelgrims kom graag na óns dorp om na die gode te kyk.
Party mense hou verby om na ‘n ander dorp te gaan, nie te ver van hier nie, waar mens jouself glo in ‘n hok tot onder die water kan laat sak om van naby na duiwels te kyk. Ander kom weer hierheen en ignoreer die gode, gaan eerder na ons kroeë vir wêreldse genot.
Maar verreweg die meeste besoekers is pelgrims. Hulle kom vir ons gode.
Baie van hulle sit roosblare en laventeltakkies in hul sakke. As hulle ‘n god êrens in die water sien, gooi hulle van dié offers op die water, staan terug met hul hande voor hul bors saamgeklem en sing saggies ‘n gesang, te sag vir ander mense om te hoor. Die meeste bring ook kameras. As hulle in pare kom, sal die een soms ‘n foto van die ander neem waar hulle glimlaggend langs die see staan terwyl ‘n god in die agtergrond by die water uitloer. Hulle vat dié kameras huis toe, laat raam die fotos en sit dit seker op ‘n tafeltjie onder ‘n spieël in hul voorportaal. As hul meer skeptiese vriende kom kuier, tel hulle die foto op en sê, “Kyk, die gode is regtig.”
Hul skeptiese vriende glimlag soms simpatiek, of as hulle minder geduld het, snork hulle en sê, “Jy kan mos sien dis ‘n klip daardie, julle gelowiges sien ook net wat julle wil.”
“Is nie,” sê die gasheer, “jy kan tog sien dis ‘n stert, kyk na die mik, kyk na die vinne, ek sweer dit is ‘n god,” en in hul ywer om hul gaste te oortuig, dik hulle soms selfs die waarheid aan, vertel dat mens die gode kan hoor sing, dat ‘n soet reuk soos frangipanibloeisels die lug vul wanneer ‘n god naby is.
Vir diegene wat hier woon, is dit moeilik om skepties te wees. Jy sien die gode elke dag, hulle word so alledaags soos die sonskyn en die wind.
Natuurlik sien niemand ooit ‘n god in sy geheel nie, maar as jy al die hoeke bymekaartel wat die gode van tyd tot tyd bo die water lug, kan jy ‘n mooi prentjie in jou kop aanmekaarsit van hoe ‘n god lyk. Meestal steek die gode net die kroontjie van hul kop of die boggel van hul rug bokant die water uit. Soms sal daar selfs lawwe gode wees wat spoeg. En soms, as die god sy vaal ou lyf effens bokant die water gelug het, sug hy hard sodat jy hom op die kus kan hoor. Dan antwoord die mense op die kus – veral die vroue – deur na hul asem te snak. So gesels ons met die gode in my dorp. Ons praat met hulle soos mense met mekaar praat. Asof dit iets alledaags is.
Daar is stories van ou gode wat al die water verlaat en op die land kom lê het. Sommige mense vertel stories – natuurlik het niemand dit al self gesien nie – van gode wat in die vlak branders kom lê het, gode so groot soos ‘n huis, met hartseer oë, wat mense voor die onmoontlike keuse geplaas het om die god te laat sterf of om sy wil te verontagsaam en hom in die water terug te stoot.
Of dit alles waar is, weet niemand. Hier waar die gode by ons kom kuier, bly hulle in die water. Hulle swem tog soms naby die strande, tot waar die branders begin skuim. Dan lyk dit asof jy tot by hulle kan uitswem. Maar hulle kom niks nader nie. En ons ken ons plek.
Daar loop ‘n heilige man met ‘n ramshoring hier rond. Soms as hy ‘n god gewaar, blaas hy die shofar, ‘n lang blaas, ‘n korte, weer twee langes. Dan hardloop kinders uit hul huise sonder om die deure agter hulle toe te maak en van die vrome vroue laat staan hul inkopiesakke net daar op die sypaadjie om eers te gaan kyk. Pelgrims spring op van die restauranttafels waar hulle wyn drink, en almal hardloop agter die shofar aan om te kyk of die god hierdie keer nie net sy logge stert en sy kroontjie en sy rug bokant die water gaan lug nie. Dalk, dink die mense, gaan hy hierdie keer sy gesig ook bo die water lug sodat hy ons gerus kan stel dat hy ons ook dophou.
Die gode doen dit nooit nie.
Party maande – van Maart tot Augustus – verdwyn die gode. Hulle vat die son met hulle saam. Dan bly die pelgrims ook weg. Dit word donker en koud en niemand praat veel van die gode nie.
Mens kan net raai wat die vroeë inwoners van hierdie gebied moes gedink het toe die gode die eerste keer so verdwyn het. Dalk het hulle gevrees die gode gaan nooit terugkom nie. Dalk het hulle geween en om vure gedans en hulself met swepe geslaan terwyl hulle die gode se vergifnis gevra het.
Deesdae weet ons van beter. Ons weet die gode kom altyd terug. Ons gaan gerus voort met ons besigheid en beplan selfs lank vooruit aan die lentefees wat ons met die gode se terugkeer gaan hou, die troebadoere wat van ver gaan kom sing, die jong maagde wat hier wyn gaan drink en gaan dans. Ons kies een van ons kinders wat ons vir die gode met toue vasbind.
En dan eendag, ‘n wonderlike dag, skitter die son op die water en die voëltjies drink nektaar in die veld. Ons hoor die shofar – hy weerklink vanaf die kus tot teen die berge, die bobbejane lug hul koppe bo die fynbos om te sien wat aangaan, motoriste stop net daar in die hoofstraat en hardloop nader, winkeliers laat staan hul deure en kasregisters oop om agter die geluid aan te hardloop. Iemand gryp die kind wat vasgebind is en ons hardloop agter die shofar aan, ons lag en ons huppel en ons dans, totdat ons die heilige man gekry het. Ons klim in ons skuite en ons vaar tot waar hy ons beduie en dan wag ons vir die gode, met sakke vol roosblare en laventel en die kind wat ons vir hom vasgebind het.
O, ons is lief hier vir die gode.
Baie mense wat ons nie ken nie het allerlei stories oor die gode – hulle bestaan nie, of hulle bestaan maar is net natuurlike verskynsels. Ons luister daarna, ons knik ons koppe, ons is baie beleefd. Maar as jy eers so saam met die gode geleef het, as jy elke jaar gesien het hoe hulle ons wêreld weer lewendig kom maak, as jy op die kus gestaan en met hulle gesels het, dan is dit nie vir jou moontlik om te twyfel nie.
Party mense sê nie een van die gode sal ooit sy kop uitsteek om terug te kyk nie. Hulle sê nie een van die gode sal ons ooit laat verstaan hulle weet ook van ons nie. Ek sê ons het dit nie nodig nie. Ons weet wat ons weet.